Die Sahara Avontuur Reeks

SAHARA AVONTUUR REEKS deur MEIRING FOUCHE

Dr. Frans Alwyn Venter (27 November 1916 – 8 Julie 1997) het in swaar tye groot geword. In die tydperke wat hy geboer het, was dit hoofsaaklik gedurende die depressie jare en moes hy toe boonop ook verskeie droogtes trotseer. Hierdie swaarkry jare het hom egter die rypheid en vasbeslotenheid gegee om met sy wonderlike stories vorendag te kom, wat vandag steeds hoogin aanvraag is en sal bly. Niks was maklik in sy lewe nie en moes hy baie hard werk in sy lewe om daarvan ’n sukses te kon maak. Hy was nie iemand wat tyd gehad het vir nonsens nie. As ’n soort van alleenloper, wat nie veel ooghare gehad het vir allerhande tipe groepe nie, het hy egter groot waardering en respek gehad vir die natuur, sy taal, sy volk, sy geskiedenis en veral sy medemens. Dit was altyd vir hom ’n plesier en genot om wanneer hy iemand ontmoet het, dan eers ’n vinnige geselsie aan te knoop met die persoon, om so die persoon beter te leer ken as om geïnteresseerd te wees in wat die persoon vir hom moes of kon doen. Voorwaar ’n baie rare eienskap wat agting en respek afdwing.

F.A. Venter was ongetwyfeld ’n fenomenale skrywer, wie se gelyke moeilik gevind gaan word. Sy skrywersveld was breed gewees en elkeen van sy boeke word moeilik neergesit voor mens dit nie eers klaar gelees het nie. Onder sy eie naam het hy net ’n paar boeke geskryf. Ander skuilname wat hy gebruik het vir sy boeke was Meiring Fouche, Marius de Jongh, Elske te Water en Rene Stegman. Onder die skuilnaam Meiring Fouche skryf hy egter meeste van sy boeke en bereik gou groot hoogtes met veral sy vier trek boeke, Offerland, Gelofte land, Geknelde land en Bedoelde land. Sy boek Man van Cirene word allerweë beskou as die gewildste en is kort na die verskyning daarvan ook in verskeie tale vertaal. In totaal het F.A. Venter meer as negentig sagteband boeke geskryf en meer as veertig hardeband boeke! Hy het ook verskeie kortverhale geskryf vir tydskrifte en koerante en is sy boeke vandag nog steeds in aanvraag en uiters populêr by oud en jonk.

Wat hom so uniek gemaak het as skrywer is die feit dat hy met sy skryfstyl die uitsonderlike vermoë gehad het om met een sin of ’n paar sinne, vir mens ’n hele storie kon optower in jou kop waarmee jy kon assosieer of dit in jou geestesoog kon sien afspeel. Jy hoef net die eerste een of twee paragrawe van enige van sy boeke te lees, om dan dadelik vasgevang te word en vasgevang gehou te word in die gegewe storie, tot jy die laaste bladsy in die boek gelees het. Tesame met uitstekende beskrywings van al sy stories, met die minste woorde moontlik, maak dat die leser geweldig uitsien om sy volgende boek gelees te kry.

Sy Sahara Avontuur reeks van veertig boeke wat handel oor ʼn Suid Afrikaner (Teuns Stegmann) se wedervaringe in die Franse Vreemdelegioen in die Sahara woestyn, asook sy bydrae van onder andere tientalle stories in die Swart Luiperd reeks, is beide reekse vandag nog steeds uiters gewild en word verslind deur oud en jonk wat hou van aksie en avontuur verhale uit die boonste rakke. Die eerste elf boeke in die Sahara Avontuur reeks is oorgedoen en word tans vertaal na Engels toe. Die res van die boeke in die reeks gaan volg met tyd.

Hier onder is skakels waar die volledigeSahara Avontuur reeks verhale deur Meiring Fouche (F.A. Venter) bekom kan word, in e-boek formaat. Slegs die eerste elf stories word hier aangedui, maar die res van die veertig boeke in die reeks kan ook by https://panther-ebooks.com bekom word,in e-boek (pdf-formaat), wat slegs geskandeerde kopies van die laaste uitgawesis en tydens die tagtiger en negentiger jare uitgegee was as sagteband boeke.

1.)Heks van die Sahara

Webwerf: https://panther-ebooks.com/book-details/Nzkw

Hierdie is die eerste storie in die Sahara Avontuur reeks, waar jy onder andere vir Teuns Stegmann, ’n uiters dapper, slim en talentvolle Suid Afrikaner gaan ontmoet.

Die broer van Teuns Stegmann, se vegvliegtuig word afgeskiet oor die magtige Sahara woestyn deur ’n Duitse vlieënier, gedurende die Tweede Wêreldoorlog. Woestyn Arabiere neem hom toe gevange en maak hom dood voor hy kon ontsnap. Om die dood van sy broer te gaan wreek, verlaat Teuns sy pragtige wynplaas in die Hexvallei en gaan sluit hom aan by die Franse Vreemdelegioen. Sy lewensverhaal daar begin toe waar ’n manskap van die Vreemdelegioen ’n aanval deur Arabiere in die woestyn oorleef. Hy praat van ’n beeldskone wit vrou wat blykbaar die aanvoerder van die aanval op die Franse patrollie was.

Kolonel Le Clerq van fort Dini Salam besluit om dadelik iets daaraan te doen. Hy stuur toe sy getroue kaptein D’Arlan saam met tweehonderd man, waaronder Teuns en sy makkers val, om die sogenaamde wit heks se mag in die Atlasgebergte te gaan breek, voor sy te veel Franse bloed op haar hande het. Baie gou beland die patrollie egter in ernstige moeilikheid. Hulle word vasgekeer deur die Doelaks in die woestyn, sonder ’n druppel water om te drink. Asof dit nie erg genoeg is nie, moet hulle later in ’n radioaktiewe Uraan-myn gaan werk. Af en toe word van die manne daar gestuur na die “Berg van die Arende” toe. Gaan Teuns se vindingrykheid saam met D’Arlan, wat beskou word as die Houdini van die woestyn, hulle uit die penarie red? Lees gerus die opwindende verhaal en vind self uit.

2.)Spore na die Dood

Webwerf:  https://panther-ebooks.com/book-details/Nzkx

In die tweede verhaal uit die pen van Meiring Fouche het die Vreemdelegioen weereens te doen met El Karima, blanke vorstin van die Doelak volk. Sy het nog nie haar vernedering vergeet wat die lang, blonde Suid-Afrikaner met die naam van Teuns Stegmann, haar ses maande gelede aangedoen het nie. Hy het toe nie net haar liefde verraai nie, maar so byna ook haar hele volk uitgeroei.Op een van hulle roetine patrollies in die warm Sahara sand, ontdek sersant Vermeer en sy manskappe twee dooie perde in die Sahara woestyn, wat deur vroue gery was. Groot is hulle skok toe hulle agterkom dat een van die vroue, die vrou is van kolonel Le Clerq, bevelvoerder van Dini Salam.

Kort daarna daag daar ’n sjiek op by die fort en eis dat Teuns Stegmann saam met hom moet teruggaan na Doetra, die vesting van El Karima se Doelaks. In ruil sal sy dan kolonel Le Clerq se vrou vrylaat. Le Clerq weier egter die versoek en dit noodsaak Teuns Stegmann om teen sy bevoelvoerder se wens, saam met die Arabier te ontsnap uit die fort. In Doetra kom Teuns gou agter dat El Karima al haar beloftes verbreek, toe hy nie haar liefde vir hom wil beantwoord nie. Selfs nie eens toe hy die kolonel se vrou se vryheid probeer verkry, deur kaalhand met ’n reus te veg nie. El Karima besluit toe om vir Teuns en die Franse vrou van kolonel Le Clerq in Dini Salam te gaan doodmaak, deur hulle met twee perde te laat verskeur, maar dit weet die bevelvoerders van Dini Salam nie.

Hulp kom egter uit ’n onverwagte oord wat hulle meedeel van El Karima se planne. Sy versoek dat die hele garnisoen van Dini Salam die fort ongewapend moet verlaat en dan eers sal sy die Franse vrou van kolonel Le Clerq vrylaat. Kaptein D’Arlan, die Houdini van die woestyn, het sy hande behoorlik vol om die manskappe en die gevangenes te probeer bevry. Asof dit nie genoeg is nie, doen kolonel Le Clerq iets wat almal die skok van hul lewens gee…

3.)Die Skarlaken Ruiters

Webwerf: https://panther-ebooks.com/book-details/Nzky

Kaptein D’Arlan van die Franse Vreemdelegioen en twintig van sy uitgesoekte manskappe is op pad om ’n medalje aan ’n ou Arabier in die Sahara woestyn te gaan oorhandig. Die rede, omdat die betrokke Arabier se stam al vir sewentig jaar lank in vrede saamleef met die Vreemdelegioen. Op pad soontoe sien hulle in die verte hoe ’n kameel karavaan aangeval word deur honderd-en-vyftig legioensoldate. Asof die feit dat dit Legioensoldate was, nie erg genoeg is nie, tel Teuns Stegmann, die blonde Suid Afrikaner in die legioen iets in die sand op, wat die raaisel net verder verdiep. By die oase van die Arabier wat hulle moet vereer, word hulle aangeval deur die vredeliewende Arabiere en ontdek dan dat hulle jong vrouens, mans en kinders deur legioensoldate weggevoer is. Groot verwarring heers en D’Arlan besluit om eers die nag daar deur te bring, voor hy die saak verder gaan probeer oplos.

Gedurende die nag word hy en sy manskappe egter deur die ander legioensoldate oorrompel en na ’n geheime tente dorp, in die middel van die woestyn geneem. Daar word hulle deur ’n Duitser onder hipnose geplaas en so gedwing om Arabiere opleiding te gee met ’n geheime wapen. Kort voor lank daag El Karima, die wit vorstin die Doelaks op en neem almal na haar hoofstad Doetra. Sy is nog steeds verlief op manskap Teuns Stegmann en weens sy hipnose trakteer sy hom in haar paleis, terwyl sy medesoldate opleiding gee aan die Arabiere. Weens die “verraad” van die legioen wat Arabiese stamme aanval en hulle mense ontvoer, besluit al die Arabiese stamme om saam te staan en trek hulle op in hulle duisende na die fort Dini Salam, wat hulle omsingel. Kolonel Le Clerq, bevelvoerder van Dini Salam kry op ’n snaakse manier ’n boodskap van sy kaptein se verraad met die Arabiere en moet hy hom en sy fort dringend voorberei vir die aanval wat gaan volg, om hulle almal uit te wis.

Teuns Stegmann word genadiglik verlos van sy hipnose deur een van sy vriende en besef dan dat hy so gou as moontlik moet uitkom by fort Dini Salam, om die kolonel daar te waarsku van die toedrag van sake. Met sy dapperheid en vindingrykheid kry Teuns dit uiteindelik reg om met sy manskappe te ontsnap vanaf Doetra, maar die legioensoldate wat hulle vantevore ontvoer het en ook El Karima se Doelaks is kort op hulle hakke. Op hul jaagtog om eerste by Dini Salam te probeer uitkom, ontdek hulle iets in ’n grot wat almal groot skok van verbasing. Intussen word Dini Salam aangeval deur sowat twintig duisend Arabiere en moet kolonel Le Clerq en luitenant Juin alles in hulle vermoë doen om die een wrede aanval na die ander te probeer stuit. Hulp vanaf die hoofkwartier word geweier en dit wil voorkom of fort Dini Salam verdoem is tot ’n nederlaag, maar dan gebeur daar iets baie eienaardigs onder die Arabiese hordes wat om fort Dini Salam saamgetrek is…

4.)Wraak van die Woestyn

Webwerf: https://panther-ebooks.com/book-details/Nzkz

’n Patrollie van die Franse Vreemdelegioen bly drie dae langer weg as wat beplan was. Dan daag hulle onverwags by fort Dini Salam op, vasgemaak bo-op perde en so erg gemartel en geskend dat nie een van hulle meer lank lewe nie. Die blond Suid Afrikaner wat hulle vergesel het, het egter nie saam teruggekom nie. Hy is ook deur El Karima weggevoer na Doetra, die hoofstad van die Doelaks, om daar te gaan sterf op die heuwel van die berg arende. Net toe Teuns dink dat hy wreed gaan sterf op die heuwel van die arende, daag hulp op vanaf ’n ou vriend wat ook ’n wrok koester teen die vorstin van Doetra, El Karima. Voor Teuns en sy redder probeer ontsnap uit Doetra, besluit Teuns om die Doelaks se heilige Swaard van Doetra te gaan steel, uit die paleis van El Karima.

Intussen kry die bevelvoerders in Dini Salam opdrag van die Opperbevel in Frankryk dat hulle nou vir eens en altyd moet ontslae raak van die wit heks, El Karima, omrede sy al te veel Franse bloed op haar hande het. Kaptein D’Arlan, die spreekwoordelike Houdini van die Sahara, lê ’n fantastiese plan voor aan kolonel Le Clerq, bevelvoerder van Dini Salam. Dit is ’n gewaagde, maar uiters briljante plan wat die Legioen nog nooit vantevore toegepas het nie. Met slegs sestig man tot sy beskikking, vaar D’Arlan en sy manskappe die Sahara woestyn binne, om sy plan van aksie uit te voer. Hulle slaag daarin om die eerste Doelak patrollie maklik te oorwin. D’Arlan se geheime plan skok die Doelaks in so mate dat El Karima toe vyfhonderd Arabiere stuur. Hulle kry die Legioen slegs omsingel, maar kan hulle ook nie oorwin nie. Dan besluit Karima om self tweeduisend Doelaks te lei om finaal te gaan ontslae raak van D’Arlan en sy sestig man in die woestyn.

Teuns het wonderbaarlik daarin geslaag om die heilige Swaard van Doetra uit die paleis te steel, maar die hele woestyn is in rep en roer om na hom te soek. Nie lank nie of Teuns word weer gevange geneem. Maar dan daag daar een van die natuur se kragtigste verskynsels op, wat Teuns die geleentheid gee om weereens te kan ontsnap. Hy bereik D’Arlan en sy manskappe wat deur El Karima aangeval word met tweeduisend Arabiere en wie se water en patrone bykans op. Dan doen Teuns Stegmann iets op sy eie, so onverwags en so ongelooflik dat dit almal totaal onkant vang en groot chaos veroorsaak in die woestyn…

5.) Die Fort is Stil

Webwerf:  https://panther-ebooks.com/book-details/Nzk0

Teuns Stegman, Fritz Mundt en Jack Ritchie raak in ’n kroeggeveg betrokke met Arabiere. Vir hulle straf word hulle tydelik verplaas na een van die ander Franse forte in die Sahara woestyn – Fort Laval. Toe die afloskolonne by Fort Laval opdaag, onder leiding van Luitenant Juin, besef hulle gou dat daar ’n groot skroef los is. Hulle sien geen lewe in die fort nie en die fort se poort staan wawyd oop. Teuns en Fritz gaan saam met luitenant Juin om eers die fort te gaan ondersoek, terwyl hulle medemanskappe buite die fort wag. Binne in die fort word hulle en die soldate buite die fort gou oorrompel deur Brigitte Bonnet, suster van El Karima en die vorige vorstin van die Doelak volk. Sy wil weerwraak neem vir die dood van haar suster en wil nou die hele Vreemdelegioen vernietig.

Die dertig manskappe word opgesluit in die fort se slaapsaal, sonder enige kos of water en saam met die ander manskappe van die fort wat ook reeds oorrompel is. Dan hoor hulle iemand wat so aaklig skreeu van pyn dat dit koue rillings deur hulle stuur. Kort daarna word die lyk van die manskap uitgedra deur rampokkers wat rubber handskoene dra. Hulle verneem dan van Brigitte Bonnet dat sy ’n hoogs geheime wapen het, wat se uitwerking sy wil uittoets op die legioensoldate. Die geluksgodin is teen Teuns Stegmann en hy word gekies as die volgende proefkonyn vir die wrede eksperiment. Nie lank daarna nie sien hulle deur die slaapsaal se vensters hoe sy lyk ook uitgedra word. Fritz Mundt en Jack Ritchie word gestuur om water en kos te gaan haal, voor dit permanent van hulle weg geneem word. Hulle kom egter nooit terug na die manne toe nie en word daar vir hulle gesê dat hulle doodgeskiet is omrede hulle probeer het om te ontsnap.

Die manne begin later waansinnig raak van die dors en hongerte. Dan begin daar snaakse dinge gebeur in die fort. Die perde, muile en kamele waarmee die rampokkers opgedaag het, verdwyn spoorloos. Die volgende dag word die marconis en ’n soldaat op die borswering van die fort dood aangetref. Asof dit nie erg genoeg is nie, begin die vasgekeerde manne in die slaapsaal snaakse geluide hoor wat vanaf die vloer onder hulle kom, in morsekode. Brigitte Bonnet laat die plek twee maal behoorlik omkeer op soek na die skuldiges, maar vind elke keer niks nie. Professor Benesj daag die volgende dag op in ’n groot vragvliegtuig saam met nog meer soldate, om die geheime en dodelike wapen se impak op die soldate te kom voltooi. Moedeloos, raadop en al byna dood van honger en dors, wag die Vreemdelegioensoldate dat hulle na die woestyn geneem moet word, om daar aan die geheime wapen blootgestel te word. Maar net toe die finale verrigtinge ’n aanvang neem, bars die duiwel behoorlik los in Fort Laval en die een skok volg op die ander…

6.) Dood met Sonop

Webwerf:  https://panther-ebooks.com/book-details/Nzk1

Vir die eerste keer is die vyf vriende van die Franse Vreemdelegioen bymekaar. Teuns Stegmann, Fritz Mundt, Jack Ritchie, Podolski die Pool en Petacci die Italianer is op ’n patrollie in die magtige Sahara woestyn, toe hulle oorval word deur ’n dodelike Sahara storm. Hul kanse op oorlewing in die oop woestyn lyk bitter kraal, maar dan sien hulle twee kamele êrens heen jaag en volg hulle die kamele. Net voor die storm in alle geweld toeslaan, bereik hulle een van drie klei-hutte naby ’n onbekende oase. Wat hulle daar in die hut aantref, skok hulle tot in hul tone en plaas hulle in groot gevaar…

Die sandstorm waai die klein oase se waterbron toe en kan hulle dit nie onder die tonne sand bereik nie. Met geen water tot hulle beskikking is hulle gedoem en besluit hulle om eerder die dood daar af te wag. Maar dan daag daar skielik ’n bomwerper met soldate op en word hulle gevange geneem en na Doetra geneem. Daar word hulle in ’n ondergrondse kerker gegooi. Hulle ontdek iets baie ongewoon onder die ou strooi in die kelder, wat hulle nuwe hoop gee op ontsnapping, maar gaan hulle betyds daarvan gebruik kan maak?

Brigitte Bonnet soek steeds vergelding vir die dood van haar suster, El Karima. Sy en haar sjeik owerstes besluit dat sy die Legioenmanne in die openbaar gaan onthoof, met ’n seremoniële swaard, voor al die stamme wat daar opgedaag het vir die spesiale dag. Die manne dink so wat hulle kan om te probeer ontsnap, maar daar is geen hoop nie. Tydens die teregstelling word daar ’n skoot van nêrens af geskiet en dit veroorsaak so groot beroering, dat alles eers tydelik gestop word.

Die Legioenmanne kry hierdeur ’n guldige blaaskans. Dan daag daar ’n man by hulle in die kerker op, wat die Vreemdelegioen lank gelede ’n groot guns bewys het. Hy vertel hulle iets wat hulle vir hulle moeilik is om te glo, maar besluit tog om saam met hom te werk. Deur ongewone omstandighede kry hulle dit reg om te ontsnap en kry sommer ook dodelike gasgewere in die hande. Maar die Doelak vesting in die Atlasberge wemel van duisende Arabiere wat ernstig op soek is na hulle en dan is daar nog die bomwerper ook…

7.)Dreunende Hoewe

Webwerf:  https://panther-ebooks.com/book-details/Nzk2

Teuns Stegmann en van sy vriende ontsnap uit die vesting van die Doelaks in die Atlasgebergte, met ’n bomwerper. Hulle land daarmee in Dini Salam en vertel aan kolonel Le Clerq, bevelvoerder van Dini Salam, dat daar verskeie gaswapens in die vliegtuig is. Die dodelike gaswapens was bestem vir Brigitte Bonnet, leier van die Doelaks se aanval teen die Franse forte. Hulle verwag dat sy binnekort al die forte daarmee gaan aanval. Dan bereik nog meer skokkende nuus hulle. Die heilige Swaard van Doetra word gesteel uit sy bewaring in die Franse hoofkwartier. Dit alleen is genoeg om feitlik al die Arabiere in die woestyn saam te laat staan, in hul stryd om die Franse juk finaal van hul skouers af te gooi. Kaptein D’Arlan, wat die bynaam Houdini van die woestyn gekry het, beraam ’n hoogs geheime plan wat hy aan kolonel Le Clerq voorlê. Met tweehonderd manskappe tot sy beskikking vertrek hy kort daarna die woestyn binne, om sy plan in werking te gaan stel.

Brigitte Bonnet, vorstin en leier van die Doelaks stuur vyfhonderd ruiters na die eerste Franse fort, Fort Laval. Maar tot hul verbystering is die fort dolleeg, buiten een baie dronk manskap wat agter gebly het. Hy vertel hulle ’n verhaal wat hulle amper nie kan glo nie. Die Doelaks beset dadelik die fort en maak planne om die volgende fort, fort Petain te gaan aanval. Fort Laval is egter toe nie so leeg as wat hulle aanvanklik gedink het nie en kry hulle die verrassing van hul lewe. Een Doelak ontsnap egter die dood en verwoesting. Teuns, Fritz en Jack Ritchie word gestuur om hom agterna te sit en te verhoed dat hy alarm gaan maak by Brigitte se hoofmag, wat reeds op pad is om die fort Dini Salam te gaan aanval. Kort voor lank word hulle in die woestyn oorval deur ses gewapende drosters van die Franse Vreemdelegioen. By hulle het hulle iets, so ongelooflik en so belangrik dat Teuns weet hulle moet so gou moontlik probeer ontsnap, om die uiters belangrike nuus so spoedig moontlik aan kolonel Le Clerq te gaan oordra. Met ’n baie slim set slaag Teuns daarin om hulle drie te bevry, maar hulle vlug en vreugde is van korte duur. ’n Patrollie van twintig Arabiere kry hul spoor en volg hulle genadeloos deur die woestyn, om die skat wat hulle gevind het, terug te kan kry.

Intussen weet nie Teuns-hulle of kolonel Le Clerq wat van D’Arlan geword het nie. Hy en sy tweehonderd manskappe het eenvoudig spoorloos verdwyn. Dan daag daar skielik ’n see van derduisende ruiters op wat Dini Salam heeltemal omring. Brigitte Bonnet het opgedaag saam met duisende ander Arabiere en berei hulle voor vir die finale aanval teen Dini Salam, die volgende oggend. Vanaf die borswering in Dini Salam, sien kolonel Le Clerq ’n eensame ruiter aangejaag kom na die hooftent van Brigitte Bonnet. Nie lank daarna nie, vertrek sy en drieduisend ruiters in ’n stofwolk na Doetra, hulle eie vesting. Die onbekende ruiter word begelei deur sestig van Brigitte se lyfwag op spierwit perde. Kolonel Le Clerq kan nie verstaan wat aangaan nie en besef dat hulle posisie hopeloos is. Maar dan besluit hy om iets gewaagds aan die saak te doen voor die volgende oggend. ’n Rooi ligstraal wat agter die duisende aanvallers in die lug opgeskiet is, is die teken waarop hulle gewag het…

8.) Bloed voor die Son

Webwerf:  https://panther-ebooks.com/book-details/OTY2

Brigitte Bonnet, die magtige leidster van die trotse Doelak volk is uiteindelik gevang deur die soldate van die Franse Vreemdelegioen. Vir haar aandeel in die dood van verskeie Legioensoldate, het die Franse Opperbevel besluit dat sy sommer by die Franse fort Dini Salam, in die Sahara woestyn tereggestel moet word. Die blonde Suid-Afrikaner, Teuns Stegmann, wat ’n groot aandeel gehad het in haar gevangeneming, word ook die bitter taak opgelê om deel te neem aan die teregstelling.

Die oggend van haar teregstelling, ontdek kaptein D’Arlan tot sy groot ontsteltenis dat sy spoorloos verdwyn het. Na ’n deeglike ondersoek kry hulle ’n verdagte en kolonel Le Clerq, bevelvoerder van fort Dini Salam, stuur vir kaptein D’Arlan, Teuns Stegmann, Jack Ritchie, Fritz Mundt en Podolski om die verdagte te gaan aankeer en ondervra. Maar dinge loop lelik skeef en hulle word almal ontvoer en in die warm Sahara woestyn ingeneem. Die Arabier wat hulle geskaak het, wil ’n losprys opeis as hy hulle aan madame Brigitte Bonnet gaan oorhandig, maar hy is ook agter die Sabel van Doetra aan, wat se waarde nie eers geskat kan word nie. Hierdie fabelagtige skat het Teuns Stegmann en sy paar boesemvriende in die Legioen, lank gelede by ’n oase versteek, en het die Arabier daarvan te hore gekom.

Op pad na die oase word hulle hele karavaan onverhoeds deur wrede Touaregs aangeval en met die hulp van kaptein D’Arlan en sy manne slaag hulle net-net daarin om die oorhand te kry. Na die kort skermutseling ontdek hulle tot almal se skok dat Teuns Stegmann makeer. As straf neem die Arabiese leier ’n sambok en slaan kaptein D’Arlan se rug rou daarmee. Omrede nie een wil vertel waar die Sabel van Doetra weggesteek is nie, kry hulle geen kos of water en moet voetslaan verder. Na lank daarna word daar deur ’n geheimsinnige ruiter, kort-kort op hulle geskiet en elke keer sterf van die Arabiere. Uit woede word kaptein D’Arlan en Jack Ritchie in die woestyn op die sand oopgespalk en daar gelaat om ’n wrede dood te sterf. Fritz Mundt en Podolski wat oorbly beraam ’n briljante plan en dit gee Fritz die geleentheid om ook te ontsnap en terug te gaan op hul spore, om te sien of hy nie dalk vir kaptein D’Arlan en Jack Ritchie kan gaan red nie.

Met Arabiere kort op sy hakke het Fritz later sy hande behoorlik vol om van hulle ontslae te raak en moet hy al sy vernuf gebruik om te oorleef. By die plek waar kaptein D’Arlan en Jack Ritchie vasgemaak is, kry Fritz slegs die beendere van ’n Arabier, beide manskappe is egter skoonveld! Fritz weet nie herwaarts of derwaarts nie en dan begin iemand skielik weer op hom losbrand. Dit is sy getroue vriend Teuns Stegmann en die het baie goeie nuus vir hom. Met feitlik almal weer bymekaar, beweeg hulle terug na die oase toe, om hulle laaste vriend Podolski, uit die hande van die wrede Arabier te gaan probeer red. Naby die oase waar die Sabel van Doetra weggesteek is, val hulle teen alle verwagtinge weer in die hande van die Arabier en sy makkers. Om dinge te vererger ontdek hulle honderde Doelaks by die oase. Die Arabier wat hulle ontvoer het besluit daar en dan om hulle almal net daar te onthoof en dan die pad te vat, voor die Doelaks van hulle teenwoordigheid naby die oase bewus raak. Dit is dan wanneer Teuns sy laaste troefkaart speel en almal in hulle spore tot stilstand ruk van pure skok en ongeloof…

9.) Die Spore Roep

Webwerf  :https://panther-ebooks.com/book-details/NTM1NQ%3D%3D

Die patrollie van sersant Catroux is nou al vir twee weke in die snikhete Sahara woestyn, maar tot op hede het hulle nog niks gewaar om oor terug te rapporteer aan die basis nie. Op pad terug na Dini Salam merk sersant Catroux deur sy verkyker ʼn swart bondel op, op een van die hoë sandduine met hordes aasvoëls wat daar rond draai. Hulle besluit om nadere ondersoek te gaan instel, maar daar ontdek hulle toe twaalf verminkte Arabiere. Dit slaan hulle skoon dronk, want Arabiere maak nie sommer hulle eie ras dood nie. Die raaisel verdiep egter toe die Suid-Afrikaner, Teuns Stegmann, iets van suiwer goud in die sand optel en waarvoor hulle geen verklaring kan vind nie. Terwyl hulle die spore van die moordenaars volg, ontdek hulle nog meer leidrade wat hulle op die spoor hou van die onbekende aanvallers.

Nie lank nie of hulle kom op ʼn oase af en daar vind hulle ʼn blanke man, vasgemaak in een van die leë hutte en wat al byna opgevreet is deur rotte. Voor hy sterf prewel hy net iets van ʼn snelgeweer. Die klompie Legioenmanne se situasie vererger die volgende oggend toe hulle ontdek dat een van hulle manne verdwyn het. Hulle slaag uiteindelik daarin om weer op die geheimsinnige aanvallers se spoor te kom. Na ʼn klompie ure kom hulle op ʼn verdwaalde perd af en ook dit maak vir hulle geen sin nie. Hulle slaag daarin op die perd te vang en daarmee word Teuns Stegmann gestuur om vooruit verkenning te gaan doen. Skaars is hy weg of hulle kom op nog ʼn pragtige swart perd af, wat lyk asof dit aan een of ander sjeik behoort. Die keer slaag hulle egter nie daarin om die perd te vang nie.

Teuns is warm op die spoor van die aanvallers, maar dan word sy perd onder hom doodgeskiet en moet hy veg vir sy lewe. Hy oorleef die aanval en soos ʼn Doelak vermom stap hy die kamp van die aanvallers binne. Teen die tyd weet Teuns aan wie die voorwerpe behoort en daarom probeer hy die raaisel, die raaisel omtrent die snelgeweer oplos en ook uitvind wat van hulle een manskap geword het, wat spoorloos verdwyn het. Teuns probeer ʼn blufspel maar dit misluk en word hy gevange geneem en voor ʼn onmoontlike keuse gestel. Hierna gebeur die een ding vinnig op die volgende. Op ʼn kritieke oomblik daag daar ʼn vliegtuig op en in die proses sterf een van die mense in die kamp op ʼn eienaardige wyse. Dit gee vir Teuns die geleentheid om een dag langer te kan lewe om sodoende te kyk of hy al die raaisels kan oplos en homself kan bevry van sy gevangeneming. Nooit het hy kon droom wat hy alles daar sou vind nie en een daarvan verander sy lewe onherroeplik op die mees kritiese oomblik…

10.) Mademoiselle Julie

Webwerf:  https://panther-ebooks.com/book-details/NjAyNw%3D%3D

Ongeveer 2000 Doelaks omsingel Fort Laval en eis van die Franse Vreemdelegioen bevelvoerder, kaptein Gaston Lefevre, om die fort sonder slag of stoot oor te gee. Dit plaas hom in ʼn uiters netelige posisie, want die Doelaks beweer dat hulle sy dogter, Julie Lefevre, geskaak het en dat hulle haar sal doodmaak indien hy en al sy manskappe nie die fort dadelik ontruim nie. Die Arabiese sjeik belowe hom dat hy net belangstel in die fort en niks anders nie. Kaptein Levefre besluit om te voldoen aan die versoek, tot groot skok van al sy manne en vra toe ʼn vrywilliger om sy dogter te gaan haal en die finale reëlings te gaan tref. Die Suid-Afrikaner Teuns Stegman, is die enigste een wat vorentoe tree en bereid is om die uiters gevaarlike taak aan te pak.

Terwyl Teuns op pad is na die Doelak kamp, net buite die fort, besluit sersant Zhakof om beheer oor die fort te neem en vir kaptein Lefevre onder arres te plaas. Hy sein vir Teuns om onmiddellik terug te kom, maar voor Teuns die fort kan bereik, word hy gevange geneem deur die Doelaks. In die sjeik se hooftent ontmoet hy vir Julie Lefevre, een van die mooiste vroue wat hy nog gesien het. Die sjeik gee vir Teuns presies 15 minute om terug te gaan fort toe en die oorname van die fort te eis, anders sterf Julie. Teuns daag toe nooit op nie, maar in sy plek daag kaptein Lefevre skielik uit die bloute op, tot groot verbasing van die sjeik. Hy neem hom toe na die Fort toe om die oorname van die fort te gaan eis.

Toe hulle egter die fort bereik, kry hulle tot hulle uiterste skok en verbasing ʼn leë fort, met geen soldaat êrens in die fort versteek nie. Hulle sukkel om die geheim uit te pluis, want hoe kon al die soldate onwetend deur die Doelak-linie dring wat rondom die fort opgestel is en toe ook net spoorloos verdwyn. Sjeik Feisan gebied vir kaptein Lefevre om hom na die wapenkamer te vergesel, want dit is eintlik die wapens en ammunisie waarin hy regtig belangstel. Maar weereens is die sjeik erg teleurgesteld, want wat hy daar vind is nie wat hy enigsins verwag het nie. Asof dit nie al is nie, gebeur daar nog iets in die wapenkamer wat die Doelaks in ʼn uiters benarde situasie plaas. Gou vlieg die lood in alle rigtings en die een spannende situasie op die volgende vind plaas, tot groot frustrasie en ellende vir die sjeik en sy volgelinge. Tussen die sjeik en dit waarvoor hy gekom het, is daar een baie dapper en intelligente man wat hom groot hoofberekenings gee en die een plan na die ander van hom in die wiele bly ry…

11.) Wraak van die Sabel

Webwerf:  https://panther-ebooks.com/book-details/NjUxOQ%3D%3D

Teuns Stegmann se broer is gedurende die Tweede Wêreldoorlog in die Sahara woestyn afgeskiet deur ʼn Duitser in sy vegvliegtuig. Dit is dan ook die hoofrede hoekom Teuns aangesluit het by die Franse Vreemdelegioen in die Sahara woestyn. Hy is op soek na sy verlore broer en het daarom sy pragtige wynplaas in die Heksvallei tydelik daarvoor opgegee. Terwyl hy en sy getroue makkers in ʼn restaurant saam ʼn drankie geniet in Algiers, tydens hulle kort verlof, daag daar ʼn geheimsinnige korterige mannetjie op. Hy vra om alleen met Teuns te gesels, maar sy kamerade waarsku hom daarteen.

Hy deel Teuns die skokkende onthulling mee dat sy broer nog lewe en dat hy bereid is om hom na sy broer te neem, want sy broer het hom opdrag gegee om na hom wat Teuns is, te soek. Hy kry dit reg om vir Teuns te oortuig met iets wat vir Teuns uiters kosbaar is. Teuns besluit toe om te gaan vra vir spesiale verlof sodat hy die mannetjie kan vergesel, maar Fritz Mundt het ander planne en veroorsaak ʼn dodelike geveg in die kroeg. Dit is Arabier teen Legioenman en die vuiste klap behoorlik. Die manne veg vir hulle lewe en toe die polisie opdaag, kom hulle met ʼn skok agter dat Teuns spoorloos verdwyn het.

Teuns bevind hom in die mag van ʼn skurk en drie van sy trawante wat aan hom die keuse stel. Besorg aan ons die Sabel van Doetra wat miljoene rande werd is en wat Teuns lank terug in ʼn oase versteek het, of sy broer sterf. Teuns se hande en voete word geboei en toe hulle by die oase in die woestyn opdaag, moet Teuns vir hulle die Sabel opspoor. Teuns probeer hulle aan ʼn lyntjie hou vir solank hy kan, want hy probeer so tyd wen om ʼn plan te kan maak vir ʼn moontlike ontsnapping. Intussen kry hy dit reg om die skurke op ʼn baie slim manier teen mekaar te laat draai en dit veroorsaak dat die een na die ander uitgeskakel word. Net toe Teuns meen hy het ʼn kans om te kan ontsnap, daag daar ongeveer 300 Doelaks op die toneel, aan wie die swaard van Doetra behoort en hulle Sjeik maak dit onmoontlik vir Teuns om te kan ontsnap.

Hulle het egter nie rekening gehou met die dapperheid en vindingrykheid van die lang, blonde Suid-Afrikaner nie. Hy kom vorendag met ʼn fantastiese plan wat, as alles haarfyn uitwerk soos hy beplan het, dan het hy maar ʼn skraal kans om weg te kom met sy lewe, maar hy is desperaat en hierdie mag sy laaste kans wees. Teuns doen toe iets uiters ongewoon en toe die Doelaks dit agterkom en op hom wil toeslaan, toe speel hy sy laaste troefkaart…

KONTAK BESONDERHEDE:

Vir enige navraag, voorstel, opmerking of iets anders in verband met Afrikaanse boeke, stuur dan gerus vir my ’n e-mail na Pieter Haasbroek met
E-mail: haasbroek.pieter@gmail.com

 

Webwerf waar hoofsaaklik Afrikaanse storieboeke aangekoop kan word in e-boek formaat:
https://panther-ebooks.com/

Webwerf met tonne inligting oor sagteband storieboeke asook fotoverhaal boeke:
https://www.softcoverbooks.co.za

Webwerf met hoofsaaklik Engelse boeke, e-boeke, kursusse en oudio boeke wat deur Amazon, Itunes en Udemy bestel kan word:
https://panther-ebooks.net/

 

My leuse is: Herinneringe van ou boeke is ’n skat om te geniet! Lekker lees!

Loading