Die Swart Luiperd Reeks

SWART LUIPERD REEKS deur BRAAM LE ROUX en MEIRING FOUCHE

Braam le Roux (Abraham le Roux Botha) en Meiring Fouche (F.A. Venter) is die skrywers van die betrokke reeks. Abraham le Roux Botha (28/8/1918 – 31/12/1956) hy feitlik al sy boeke onder die betrokke skuilnaam van Braam le Roux geskryf. Hy is egter tragies oorlede op ’n jong ouderdom van 38 jaar. Na die vroegtydige afsterwe van Braam le Roux is Meiring Fouche genader om die reeks oor te neem en dit voltooi weens die gewildheid van die reeks toe dit die eerste maal verskyn het. Die reeks eindig toe met sewentig boeke.

Toe die Swart Luiperd reeks gedurende die vroeë vyftiger jare die eerste maal uitgegee was, het dit so goed verkoop, veral onder die jong mense, dat die uitgewers die betrokke reeks meer as vyf maal uitgegee het in minder as tien jaar. Buiten die Swart Luiperd reeks het Braam le Roux ook verskeie ander sagteband stories geskryf, in ander ook baie gewilde reekse, soos bv. die Temmers van die Woestyn reeks, SA Polisie reeks en Swerwer Speurder reeks. Sy paar hardeband boeke was minder populêr, alhoewel dit vandag steeds gelees word deur ieder en elk. Vandag word Braam le Roux allerweë beskou as een van die grootste afrikaanse storieverhaal skrywers wat die land nog opgelewer het. In sy kort leeftyd het hy meer as ’n honderd sagteband boeke en meer as tien hardeband boeke geskryf en dit ewenaar ander groot skrywers soos Meiring Fouche, Gerrie Radlof en Casper H. Marais (skuilname), wie dit egter ’n leeftyd geneem het om ook meer as ’n honderd boeke te kon skryf. Het Braam le Roux sy lewe lank boeke geskryf, sou hy vandag seker ongetwyfeld bekend gestaan het as die grootste afrikaanse storieboek skrywer in Suid Afrika se geskiedenis.

Beide Braam le Roux en Meiring Fouche is bekend as skrywers wat spanning en aksie hooggety kan laat vier en die betrokke Swart Luiperd reeks is geen uitsondering nie. Elke boek is ʼn uitstekende aksie-avontuur verhaal wat afspeel, hoofsaaklik in woude en vlaktes oral oor Afrika, maar ook op ander dele regoor die wêreld. Die hoof karakters is Leon Fouche, alias Die Swart Luiperd, sy vrou Sonet, Bennie hulle seun (eers later in die reeks), Donker sy perd en Simson en Spikkels, twee luiperds. Interessant is dat die luiperds in van die boekies as jagluiperds aangedui word en in ander weer as luiperds. Die algemene mening is dat dit luiperds was en nie jagluiperds nie, omrede jagluiperds in baie van die situasies waarin hulle beland het, nie die mas sou opgekom het nie. In meeste van die verhale reis die Swart Luiperd saam met sy perd en twee luiperds kruis en dwars oor die wêreld op soek na aksie en avontuur. Die Swart Luiperd is egter gekant teen vuurwapens en is dus net gewapen met ’n jagmes en pyl en boog. Verder kan hy ook soos ’n tipiese Tarzan van ouds vinnig deur die oerwoud beweeg, deur te swaai van tak tot tak aan bobbejaantoue. Die Swart Luiperd kry te doene met onder andere geheime beskawings, genadelose diere smokkelaars, obsessiewe gouddiewe, roekelose veediewe, skrikwekkende oerdiere, allerhande vreemde stamme en nog vele meer. Die betrokke reeks is vandag nog steeds hoog in aanvraag by alle ouderdomme, alhoewel minder mense vandag seker bewus is van die reeks wat tientalle jare gelede so uiters populêr was. Die aksie, spanning en avontuur in elke storie is deurgaans en maak die betrokke reeks iets besonders wat jou altyd sal bybly en soms laat wens jy was daar saam met die Swart Luiperd in sy soektog na nuwe avonture, vol aksie en gevare wat om elke hoek en draai teenwoordig was.

Hier onder is skakels waar die volledige Swart Luiperdreeks verhale deur Braam le Roux (Abraham le Roux Botha) en Meiring Fouche (F.A. Venter) bekom kan word, in e-boek formaat. Slegs die eerste twee stories is al oorgedoen en word hier aangedui, maar die res van die sewentig boeke in die reeks kan ook by https://panther-ebooks.com bekom word, in e-boek (pdf-formaat). Die oorblywende agt en sestig verhale van die Swart Luiperd boeke is tans nog net geskandeerde kopies van die laaste uitgawe wat tydens die tagtiger en negentiger jare uitgegee was as sagteband boeke.

1.)Gemaskerde Moordenaars

Webwerf: https://panther-ebooks.com/book-details/ODQy

Leon moes vroeg al leer om ’n sakmielies op sy skouer te gooi en daarmee wa toe te stap. Skaars was hy veertien jaar oud toe hy al ’n pyl en boog so knaphandig hanteer het, dat enige Boesman se mond daarvan sou water. Omdat hy die enigste seun en kind van sy ouers was, het hy sy vermaaklikheid in die veld gevind, waar hy tierboskatte gejag het en luiperd sonder die pyl gesteek het. Sy hande het al vroeg geleer om ’n jong os se horings so te draai, dat die dier magteloos op die grond neerslaan.

Leon se moeder is vroeg dood, net voor die Eerste Vryheidsoorlog, toe die Basoetoes ’n aanval op ’n paar afgeleë plase gedoen het. Van toe af het Leon se vader avontuursoeker geword. Saam het hulle die onbekende in getrek, altyd dieper die onbekende Transvaal in. En Lettie? Leon en sy het saam grootgeword. Haar ouers is albei deur die Basoetoes vermoor en Leon se vader het hom toe oor haar ontferm. Lettie met haar sagte, golwende, blonde hare en blou oë, blou soos die wolklose hemel van die Laeveld. En nou is sy al ’n rooiwang-boerenooi van sestien jaar.

’n Paar beesdiewe steel een aand al Leon-hulle se beeste, vermoor sy pa en ontvoer vir Lettie in die proses. Leon sweer wraak op die moordenaars en beesdiewe. Met ’n luiperd wat hy moes doodmaak vir oorlewing, maak hy toe vir hom ’n masker daarvan en so word die legend gebore van die Swart Luiperd. Die Luiperdman se voorkoms skrik enige een af wat dit sien en gebruik Leon dit baie handig om vrees en gesag by die diewe in te boesem. Maar maklik was dit geensins nie en moes Leon eers sekere ontberings deurgaan om reg en geregtigheid te laat geskiet.

2.)Die Mensvreters van Tsawo

Webwerf: https://panther-ebooks.com/book-details/ODY4

Die kluisenaar van die Blouberge se vader was ’n grootwildjagter. Op ’n dag verdwyn hy saam met twee van sy handlangers in die digte woude van Oos-Afrika. Sy seun gaan soek na hom en ontdek hom toe hy reeds half opgevreet was deur leeus. In sy een hand het hy skitterende juwele krampagtig vasgehou, onder andere diamante, robyne, opale en saffiere. In sy ander hand het hy ’n briefie vasgehou waarin hy vertel van die legendariese stad van juwele wat hy ontdek het. Hy praat verder daarin van ’n diep gat onder ’n boom wat al die wonderlike juwele  bevat asook van reuse swartes met spiese wat die stad bewaak en die mensvreters van Tsawo genoem word.

Sy seun Paul maak dit toe sy lewenstaak om na die legendariese stad te gaan soek en vind dit toe ook twintig jaar later. Hy probeer dit streng geheim hou, maar ’n klomp fortuinsoekers kom wel daar van te hore en is toe dadelik op sy spoor. Die Swart Luiperd, sy oom en sy dogter word in die kluisenaar se vertroue geneem om hom te help om na die stad van juwele te gaan. Die skurke is kort op hulle hakke en doen alles in hulle vermoë om van die Swart Luiperd ontslae te raak. Hulle kry dit later reg om vir Sonet en die kluisenaar te ontvoer en die keer is dit die Swart Luiperd wat hulle weer meedoënloos agtervolg.

Toe hulle by die stad van juwele uitkom, word hulle skoon oorweldig deur al die skatte wat hulle waarneem. Hulle slu plan is om die beeldskone Sonet te gebruik en haar as bruid vir die koning aan te bied, in ruil vir baie van die skatte. Hulle het egter nie heeltemal rekening gehou met die vernuf van die Swart Luiperd, wat hulle gereken het hulle vroeër doodgemaak het nie. Saam met sy twee mak luiperds en Donker sy perd, het hulle so verassing of twee vir die skurke.

KORT UITTREKSEL UIT DIE EERSTE SWART LUIPERD STORIE

Alles gebeur so vinnig dat die ander eers nie mooi besef wat gaande is nie. Leon sien die stormende gestalte, swaai sy boog haastig oor sy skouer en laat die pyl in die koker terug gly. Hy bal sy regtervuis en toe Paul sowat drie tree van hom af is, word sy vuis met die geweld van ’n veertienpond-voorhamer opgeswaai. Dit tref die ongelukkige Paul met ’n kraakgeluid vol in sy gesig. Bloed spat na alle kante toe en sy liggaam plof op die grond neer.

“Mooi so Paul,” skree Sulg en storm ook vorentoe. Maar die volgende oomblik val hy byna agteroor van skok. ’n Pyl swiep na hom met die snelheid van ’n koeël en lig sy helm skoon van sy kop.

“Staan net waar julle is, as julle my gifpyltjies nie in julle harte wil hê nie!”

Sulg staan verstom. Hy is heeltemal uit die veld geslaan. Vaagweg neem hy ’n gedaante waar en brand los.

“’n Mens skiet nie na ’n bewustelose man nie, heer en meester van die boewebende! Kyk, nou het jy jou eie handlanger van die gras af gemaak. Nog ’n moord op jou kerfstok. Jy het Paul in sy bors getref.”

Leon het die half bewustelose Paul aan sy skouers opgelig, met die doel om met hom as skild deur die gat te ontsnap, maar nou is dit hopeloos. Sulg weet nou dat Paul doodgeskiet is. Hy het te gou gepraat. Hy laat val die lewelose liggaam van die ongelukkige Paul en koets weer agter die uitstaande rots in.

“Jy sal daarvoor boet,” bulder Sulg terug en jaag vier skote, kort na mekaar die donker in.

Volgens Leon se berekening, moet sy magasyn nou leeg wees. Tot die swart figuur agter die rots se blydskap, sien hy die boef in sy sakke rondvroetel en met bewende vingers begin hy weer sy rewolwer laai. Soos weerlig is Leon se pyl en boog in sy linkerhand. Hy buk en raap ’n los klip op en met ’n vinnige swaai trek die klip reg op Bart af, wat sy rewolwer nog steeds hou in die rigting van waar hy Leon se stem laas gehoor het.

Die klip tref die rampokker in sy maag en hy snak na sy asem. Hy het dit glad nie verwag nie. Hy buk en vir ’n oomblik is hy heeltemal oorbluf. In een sprong is Leon by die klein opening. Sy swart gestalte is duidelik sigbaar. Waansinnig van woede, skree Sulg.

“Bart! Sam! Skiet in hemelsnaam! Sam, skiet, jou vrotterd! Daar gaan hy!”

Uit pure radeloosheid gooi Sulg sy rewolwer, wat nog nie eens een koeël in het nie, na die verdwynende gestalte van die Swart Luiperd. In die ligkol sien hy die swart luiperdgesig. Sam se wilde skote laat die rotsstukke onderkant die klimmende Leon in skerwe spat. Een tref hom in sy velskoen.

Hy is buite en nael vir so al wat hy werd is, tussen die bome deur in die rigting van die perd, wat hy so flussies daar diep in die bosse, teen die hang vasgemaak het. Agter hom borrel die drietal by die klein opening uit. Sulg steun om sy swaar liggaam uit te kry.

Al drie staan uitasem langs die rotsstuk wat die gat halfpad verberg. Sulg vind sy rewolwer vlak voor die opening. Hy laai dit vinnig en skiet dan wild daarmee die bosse in. Die skote laat ’n paar bos-apies kwetterend eenkant toe padgee en ’n rietbok uit sy lêplek opspring.

Hulle hoor perdepote, vinnige hoefslae wat al hoe stadiger word. Sulg swets toe hy oor ’n graspol struikel met die wat hy vorentoe hardloop en daar met onsag met die grond kennis maak.

Sulg staan woedend op en begin loop. Sam en Bart volg hulle leier. Hulle vleg tussen die bosse en ruigtes deur. Voor hulle vlug al wat dier is. Hulle gaan ’n opdraand uit oor rotsstukke en tussen weliggroeiende kreupelhout deur. ’n Opening tussen die bosse doem later voor hulle op. Die skemer het ongemerk padgegee en die inkswart nag wat soos walmende, donker wolke tussen die donker stamme van die bome aangesluip, is in hul plek. Die hoewegedreun is nie meer hoorbaar nie, maar bo van die koppie wat nou dofweg sigbaar is, rol enkele klippe die berghang af.

KONTAK BESONDERHEDE:

Vir enige navraag, voorstel, opmerking of iets anders in verband met Afrikaanse boeke, stuur dan gerus vir my ’n e-mail na Pieter Haasbroek meEmail:
haasbroek.pieter@gmail.com

Webwerf waar hoofsaaklik Afrikaanse storieboeke aangekoop kan word in e-boek formaat:
https://panther-ebooks.com/

Webwerf met tonne inligting oor sagteband storieboeke asook fotoverhaal boeke:
https://www.softcoverbooks.co.za

Webwerf met hoofsaaklik Engelse boeke, e-boeke, kursusse en oudio boeke wat deur Amazon, Itunes en Udemy bestel kan word:
https://panther-ebooks.net/

My leuse is: Herinneringe van ou boeke is ’n skat om te geniet! Lekker lees!

Loading