Woeste Laeveld Reeks

WOESTE LAEVELD REEKS

Weet u dat Suid-Afrika ook sy eie, egte “cowboy” tydperk gehad het? Die uitmuntende Woeste Laeveld reeks deur Braam le Roux en Dewald Brink is nou weer beskikbaar in aksiebelaade stories wat hierdie swaar tydperk baie goed aanspreek.

Dit was in die dae toe vroue “skaars en duur artikels” was. Toe wilde avonturiers uit die buiteland in hul honderdtalle die land binne gekom het en toe vee-smokkelaars en diewe met goud, sterk drank en blitsende rewolwers dikwels ’n hele gemeenskap regeer het. In die wilde, woeste Oos-Transvaal, waar die eerste groot goudontdekkings in Suid-Afrika gemaak is, het hierdie dinge gebeur. Daar was vurige, hartstogtelike meisies, soos Juanita, wat bereid was om siel en liggaam op te offer aan die man wat hulle lief gekry het.

Die verhale in die reeks, speel af in die tagtigerjare van die vorige eeu toe Barberton, in die bergwêreld van die Oostelike Transvaal, nog wild en woes was. Fortuinsoekers het uit verre oorde die aarde kom omdolwe op soek na goud. En te midde van geldsug en ’n koorsagtige gejaag om ryk te word, het hartstogte opgevlam. Haat, weerwraak en jaloesie was stukragte wat die mens tot die uiterste gedryf het. Wet en orde kon nie altyd behoorlik toegepas word deur die geringe polisiemag wat toe bestaan het nie. Die opperheerskappy van die rewolwer, geweer en dolk het meestal die deurslag gegee in die stryd tussen reg en onreg en was deur baie beskou as die eintlike wet. Maar te midde van hierdie ruwe era en wilde hartstogte, was daar ook die mooi ontplooiing van liefde tussen man en vrou, waar innige emosies soms deurstrengel geraak het met siedende wraaklus, moord en vernielsug.

Hier onder is skakels waar die volledige Woeste Laeveld reeks verhale deur Braam le Roux en Dewald Brink bekom kan word, in e-boek formaat. Die hele reeks van nege boeke is oorgedoen en beskikbaar by https://panther-ebooks.com, in e-boek (pdf-formaat).

1.)Vlam van die Laeveld

Webwerf: https://panther-ebooks.com/book-details/MTAxNQ%3D%3D

In die wilde, woeste Oos-Transvaal, waar die eerste groot goudontdekkings in Suid-Afrika gemaak is, speel hierdie verhaal af. Daar was vurige, hartstogtelike meisies, soos Juanita, wat bereid was om siel en liggaam op te offer aan die man wat hulle lief gekry het. En daar was kêrels soos Johan Grimbeek, met sy kalme, deurvorsende blik en sy sagte gespierde tred. Wat meedoënloos, honderde myle ver op die spoor van ’n moordenaar sal bly soek en vra en luister totdat hy hom opspoor, en dan spring die rewolwer aan sy sy blitsvinnig in aksie, vinniger as wat ’n mamba kan pik… ’n Man wat selfs nie deur die wildste en roekeloosste liefde van ’n meisie van die spoor afgelei kan word nie… Hierdie verhaal is ’n merkwaardige, romantiese spanningsverhaal wat seker nog in Afrikaans gepubliseer is en wat jou sal boei tot aan die einde van die storie.

2.)Die Poort van Trane

Webwerf: https://panther-ebooks.com/book-details/MTAxNg%3D%3D

In die woeste bosveld van Oos-Transvaal het ’n meisie verlore geraak. Sy bevind haar in ’n gebied wat wemel van roekelose fortuinsoekers, beesdiewe en smokkelaars. Daar is ’n tragedie verbonde aan haar wegraak en ’n groot prys word uitgeloof aan die man wat haar lewendig kan terugbring. Deur die kragte van die noodlot word ’n man op haar spoor uitgestuur. ’n Man wat ’n diepe wrok in sy hart het. ’n Man wat weke en maande lank al soek en soek en soek, nie na die vermiste meisie nie, maar na iemand teenoor wie hy al sy kille en verbete wraaklus sal kan afkoel, indien hy hom ooit sou opspoor.

Hy soek na ’n moordenaar… en dan loop hy ’n meisie raak wat hom laat wonder of sy nie dalk die geheimsinnige, “vermiste kleindogter van Oom Lodewyk Malan” is nie. Sy is self in hewige, asemrowende avonture betrokke. Hy kry dit reg om haar daaruit te red, maar dan kom hy te staan teen ’n vyand, so magtig en roekeloos soos die woeste Laeveld nog nooit geken het nie. Maar selfs teen hom is hy egter opgewasse. Hierdie man van staal en soepele krag, wat ’n rewolwer kan hanteer, vinniger as wat weerlig kan slaan. Johan Grimbeek, is die held van die verhaal, wat hom daarop toelê om die Laeveld, oorstroom deur wrede en genadelose fortuinsoekers sedert die ontdekking van goud in 1870, weer skoon te maak…

3.) Vonnis van die Berge

Webwerf: https://panther-ebooks.com/book-details/MTAxNw%3D%3D

In die woeste avonturiersdorp van Barberton, reik die landdros ’n lasbrief uit vir die arrestasie van Johan Grimbeek, op aanklag van moord en roof. Sake lyk baie donker teen Grimbeek, maar die noodlot bewerk dit so dat as hy ’n sekere perd in die hande kan kry, ’n perd wat wild in die berge groot geword het, hy sy onskuld sal kan bewys. Hy vlug voor die landdros se manne uit en gaan die berge binne, om die perd te probeer vang. Dit is ’n prag van ’n dier en ratser as ’n wildsbok…

Maar voordat Grimbeek na die berge toe gaan, word hy ook gesoek deur ’n meisie. Sy weet dat Grimbeek nog al die tyd soek na ’n spesifieke man, ’n skurk en moordenaar, met wie hy reeds twee maal in bloedige botsings betrokke was. Sy wil hom gaan help om hierdie man, Mario Perreira, op te spoor en wraak te neem. Met trane in haar oë en hartstogtelike woorde op haar lippe, soebat sy hom om haar saam te neem wanneer hy in die berge in ry, want sy het net een groot begeerte en dit is om hom te help en saam met hom wraak te gaan neem.

Johan Grimbeek laat haar toe teen sy sin in om saam te gaan, en baie dae en nagte bring hulle saam in mekaar se geselskap deur. In die tyd beleef hulle baie asemrowende avonture saam. Wanneer hy siek word, verpleeg sy hom, en wanneer sy lewe in gevaar is, help sy hom veg. Die landdros se manne is later kort op sy hakke, terwyl Mario Perreira weer voor hom in die berge is, besig met sy duiwelse planne om hom vas te trek. En intussen moet hy nog daardie ongelooflike ratse, wilde perd vang…

4.) Spore in die Dou

Webwerf: https://panther-ebooks.com/book-details/MTAxOA%3D%3D

Die bloedigste moord wat mens jou kan voorstel, vind op ’n helder maanlig nag in die hartjie van die Woeste Laeveld plaas, maar dit is nie ’n mens of mense wat vermoor word nie, dog onskuldige, redelose diere. Hulle word met woeste wreedheid na hulle dood gejaag, voortgedryf totdat hulle benoud bulkende oor ’n duiselingwekkende krans afstort, om onder ’n bloedpappery vir die aasvoëls te word.

Maar ’n geheimsinnige man, onbekend aan die wreedaards, is reeds op hulle spoor. Hy is ’n “spesiale agent” van die regering, wat gestuur is om ondersoek in te stel na reusagtige bedrog by ondernemings daar in die goudryke Laeveld, deur skurke se streke, wat die goeie naam van die Suid Afrikaanse Republiek deur die modder sleep. ’n Man met ’n rewolwer aan sy sy, wat hy so vinnig soos ’n bytende mamba kan hanteer, bly meedoënloos op die skurke se spoor. Eers loop hy hom vas teen ’n rooihaar nooi wat haar erg parmantig en vyandig hou, maar wanneer sy lewe in gevaar is, help en versteek sy hom in haar eie plaashuis. En dan eers besef sy dat al haar agterdog teen hierdie man, op wie sy al heimlik verlief geraak het, ongegrond is. Hulle twee ruk toe saam op na ’n laaste, bloedige botsing met die onmenslike wreedaards.

5.) Beminde Verraaier

Webwerf: https://panther-ebooks.com/book-details/MTAxOQ%3D%3D

Deur die ruigtes beur Len van Staden heen tot op die oewer van ’n groot rivier. Dit wemel daar van seekoeie en krokodille en in die ruigtes agter hom, is gevaarlike wilde diere… Skynbaar kom geen menslike wese ooit hier nie. En tog, daar aan die oewer van die breë, diep seekoeigat lê ’n swaar pen vasgemaak! Dit is die pont wat deur die boewe gebruik word vir hulle nagtelike rowery.

Len van Staden, met sy rewolwer bandelier stewig vasgegespe om sy heupe, staan roerloos stil om die betekenis hiervan te laat insink. Is sy eertydse boesemvriend dalk hierin gemoeid? En dalk ook die meisie op wie Len eens op ’n tyd verlief was. Hy staan en wonder wat moet hy nou verder moet aanvang? Dit is ’n enorme probleem wat Len van Staden in die gesig staar. Hy het ’n reusetaak en ’n reuseprobleem voor hom, om agter die waarheid te kom en reg en geregtigheid te laat seëvier. Die uitvoering van hierdie bittere taak, is die tema van hierdie verhaal wat afspeel in die romantiese dae van die Woeste Laeveld, toe die geweer en rewolwer nog die wet voorgeskryf het en toe verraaiers sommer voor die voet aan bome opgehang was.

6.) Geen Vergiffenis

Webwerf: https://panther-ebooks.com/book-details/MTAyMA%3D%3D

Die reeds beroemde Len van Staden, spesiale polisie-agent van die Regering van die Suid Afrikaanse Republiek, tree andermaal op in hierdie buitengewone verhaal van liefde en avontuur en van die trotsering van doodsgevare.

’n Onskuldige meisie, Helena de Vos, se groot liefde vir ’n man word verpletter toe hy haar en haar kindjie versaak en aan die genade van ’n wêreld vol skindery en wreedheid oorlaat. Maar sy veg moedig voort en help haar bejaarde, eksentrieke pa om sy aartsvyand, wat hom op sakegebied heeltemal geruïneer het, die hoof te bied. Haar pa se aartsvyand is klaarblyklik ’n opperste skurk. Met die hulp van ’n bende roekelose en genadelose rewolwerskuts, doen hy alles in sy vermoë om die bou van ’n treinspoor deur daardie deel van die land te verhoed.

Daar is treinontsporings en grootskaalse diewery aan die gang… en op daardie oomblik kom Len van Staden daar aan, gestuur deur die Regering van die Republiek, om die chaos te kom ondersoek.

Hoe Len van Staden hierdie gevaarlike ondersoek uitvoer en koelbloedige moordenaars en rewolwerskuts beveg en eindelik onder die knie kry, bygestaan deur die moedige Helena de Vos en deur Lettie Joubert, is die verloop van hierdie aangrypende verhaal.

7.) Hoefslae teen Middernag

Webwerf: https://panther-ebooks.com/book-details/NTEyOA%3D%3D

Hierdie verhaal speel af in die tydperk 1835 – 1887 tydens die storm en drang jare van die Oostelike Transvaal, toe die geel-erts honderde mense na gebiede om Barberton laat stroom het. Die goudkoors het hewig gewoed en avontuur en romantiek was aan die orde van die dag. ’n Kosmopolitiese bevolking is in Barberton saam gehok en wetteloosheid het onrusbarend toegeneem. Die Republikeinse polisie was te ontoereikend om hierdie wetteloosheid die hoof te bied. Dit was die jare toe die geweer en die rewolwer reg en geregtigheid beslis het en meermale het ongeregtigheid die botoon gevoer.

Hein Brandis is op pad na ʼn ou vriend van hom, genaamd oom Izak Langeman, wat hy baie jare laas gesien het. Oom Izak se beeldskone dogter, Roelien, was goed bevriend met Hein in hul kinderjare, maar sy het toe weggeloop en gaan trou met Nic Beetge, wat ʼn opperste skurk en veedief is. Nie lank na haar troue nie, kry Roelien dit reg om ongemerk vir haar pa ʼn brief te stuur, waarin sy dringend om hulp vra. Oom Izak het toe weer dadelik vir Hein laat ontbied. Hein het skaars by oom Izak opgedaag en verneem na die inhoud van die brief of hulle twee raak betrokke by veediewe, wat beide se beeste probeer wegvoer. In die skermutseling wat volg, sterf oqm Izak en dit maak Hein vasbeslote om hierdie geheim van Roelien en die beesdiewe finaal op te los.

Gou val die vuiste en klap die skote en Hein het omtrent al sy dae om aan die lewe te bly. Hein kry onder andere hulp vanuit ʼn onverwagte oord in die gedaante van Marlene. Sy is net so beeldskoon soos Roelien en het rooi hare wat oral groot aandag trek. Saam met haar en Frans Verwey wat ʼn wetstoepasser is, probeer hulle die veediewe aankeer en kos dit al hul ervaring en vermoëns om staande te bly teen die bende wat voortdurend poog om hulle uit te wis.

8.) Ruiters van die Dood

Webwerf: https://panther-ebooks.com/book-details/NTE4OA%3D%3D

In hierdie laaste opwindende woeste weste reeks verhale uit die pen van Braam le Roux, ontsnap daar ʼn gevangene uit die tronk. Snel Benecke het net een doel voor oë en dit is om hom te wreek op die man, wat hy glo hom ontneem het van sy erfporsie, asook ʼn groot skat wat hy iewers versteek het net voor hy tronk toe gestuur is. Die persoon wat Snel wil doodmaak is die polisie-agent Frans Verwey, wat vir Snel gearresteer het vir beesdiefstal en strafbare manslag. Hein Brandis het intussen ook ʼn polisie-agent geword en saam word die twee uitgestuur om te gaan ondersoek instel na iemand wat in ʼn hut verbrand het. Hein glo nie die identiteit van die oorledene nie en nie lank nie of iemand wat hy ken, bevestig ook sy vermoede in die verband. Die “oorlede” man beraam ʼn aaklige plan deur ʼn goeie vriend van Hein te vermoor en dan die blaam daarvoor op Hein te plaas. Hy kry dit ook reg en Hein moet later uit die tronk ontsnap met behulp van ʼn paar getroue vriende, om te gaan soek na die man wat sy vriend vermoor het en ook om sy eie naam in ere te herstel.

Tussendeur is daar ook twee beeldskone vroue wat konstant meeding om Hein se aandag en maar min ooghare het vir mekaar. Die noodlot is egter teen Hein en verloor hy nog iemand baie na aan hom. Op vlug van die gereg wat hom voëlvry verklaar het asook skurke wat sy dood soek, het Hein sy hande behoorlik vol om lewend te bly en wraak te neem op die persoon wat twee van sy beste vriende vermoor het. Gou klap die vuiste en koeëls sing in alle rigtings in die skermutselinge wat Hein het met die wat hom wil arresteer en doodmaak. In hierdie spanningsvolle woeste weste verhaal is die skrywer op sy allerbeste en kan mens nie anders as om die boek eers klaar te lees voor jy dit neersit nie.

KORT UITTREKSEL UIT DIE EERSTE WOESTE LAEVELDSTORIE

Johan se nuuskierigheid is nou terdeë gaande gemaak. Hy wil hoor wat verder hier gepraat word. Nog net eergister het ’n man in Colts Creek, anderkant die berge, aan hom gesê dat een uit elke twee persone wat mens in hierdie geweste raakloop, of ’n rower of smokkelaar of veedief is. Grimbeek het gedink die kêrel oordryf, maar nou lyk dit vir hom of dit werklik so kan wees.

Hy sou wat wou gee om die manne daar onder in die oog te kan kry.

Maar die volgende oomblik kom ’n klip onder sy voet los en rol teen die wal af. Johan besef oombliklik dat die manne sal weet dat hy hulle afgeluister het. Hy koes agter ’n bos weg, maar dit is te laat. Die manne spring op en skreeu na hom.

En die volgende oomblik blits ’n rewolwer en slaan die koeël teen die rots naby hom vas.

Die groot kêrel bulder aan sy maats.

“Hy is ’n spioen! Hy durf nie wegkom nie! Skiet op sig en skiet dood. Mike, sny jy die kant toe om… pasop hoor. Hy sal terugskiet.”

Die meisie daar bo op die rand hoor die geknal van rewolwerskote. Sy sien hoe die vreemdeling die pak van sy rug afgooi en gebukkend agter rotse en struikgewasse wegkoes.

Grimbeek besef dat hierdie manne hom maklik koelbloedig sal kan doodskiet en dan hier laat lê, en geen haan sal ooit daarna kraai nie. Dit sal in hulle belang wees om hom dood te skiet, want hulle meen hy het hulle ’n hele ruk lank daar staan en afluister en dit sal hom niks help om die teendeel te probeer bewys nie.

Die meisie sien hoedat Grimbeek hoër op teen die berg vlug, skuins weg van sy agtervolgers af. Maar daar is ’n breë strook, kaal en boomloos, waar hy sekerlik raakgeskiet sal word.

Van opgewondenheid spring sy regop en onwillekeurig gryp sy haar geweer langs haar op.

“Skiet terug, jou esel, skiet terug!” roep sy uit. Maar daar is geen hoop dat Johan haar sal hoor nie. Sy besef nou ook meteens dat hy natuurlik geen wapen het nie.

Sy sien hoe hy ’n diep sloot bereik wat reguit teen die helling afloop. Hy spring in die sloot in en toe gewaar die meisie dat daar ’n blitsvinnige plan in sy kop gekom het. Hy hardloop nie hoër op met die sloot nie maar pyl so vinnig as wat hy kan, gebukkend, af na die waterval se kant toe. Die sloot loop in die kloof uit net aan die anderkant van daardie boom waaronder die vier manne gesit het.

Grimbeek se plan is natuurlik om by die perde uit te kom.

Die meisie hou haar asem in uit vrees dat die ander dalk die vlugteling se plan sal agterkom. En dit duur ook nie lank nie of hulle kom dit wel agter.

Die groot kêrel het tot by die sloot gekom en ’n end op die wal langs na boontoe gehardloop. Nou kom hy agter dat Johan nie op nie maar af met die sloot is en bulderend skreeu hy aan een van die manne om na ondertoe te hardloop en Johan daar voor te keer.

Johan is nou weer in ’n ruigbegroeide gebied en toe hy hoor dat hulle sy plan agtergekom het, spring hy vinnig uit die sloot uit en baan so vinnig en geruisloos moontlik vir hom ’n pad tussen die bome en struikgewasse deur.

Die meisie gewaar hom weer toe hy vlak by die hoë wal, waar hy die manne afgeluister het, oor ’n oop kol hardloop. Sy sien van onder af een van die ander manne aangehardloop kom, reguit na hom toe.

“Pasop! Pasop,” skreeu sy onwillekeurig. Sy is op die punt om haar geweer na haar skouer te bring en hand by te sit en die vreemdeling te help, maar sy skrik toe sy besef dat sy net ’n paar patrone in die magasyn het en dit nie durf vermors nie, want haar eie lewe kan nog hier in gevaar kom.

KONTAK BESONDERHEDE:

Vir enige navraag, voorstel, opmerking of iets anders in verband met Afrikaanse boeke, stuur dan gerus vir my ’n e-mail na Pieter Haasbroek met E-mail: haasbroek.pieter@gmail.com

Webwerf waar hoofsaaklik Afrikaanse storieboeke aangekoop kan word in e-boek formaat:
https://panther-ebooks.com/

Webwerf met tonne inligting oor sagteband storieboeke asook fotoverhaal boeke:
https://www.softcoverbooks.co.za

Webwerf met hoofsaaklik Engelse boeke, e-boeke, kursusse en oudio boeke wat deur Amazon, Itunes en Udemy bestel kan word:
https://panther-ebooks.net/

 

My leuse is: Herinneringe van ou boeke is ’n skat om te geniet! Lekker lees!

Loading