
Arend
Die 26-jarige sanger is gebore en het grootgeword in Bloemfontein, waar hy sy skoolloopbaan by Grey College voltooi het. Hy studeer tans Computer Aided Drawing by CTU in Bloemfontein.
Na skool het hy ses jaar lank probeer om sy naam in die musiekbedryf te vestig. Musiek was nog altyd deel van sy lewe en hy sing reeds van 11-jarige ouderdom af. Hy is al ongeveer 15 jaar betrokke in die musiekbedryf.
Boshoff is ongetroud, maar hy het ’n spesiale persoon in sy lewe. Hy is ook ’n familiemens wat baie waarde heg aan verhoudings.
Deur sy loopbaan was hy al betrokke by verskeie verhoogproduksies, talentkompetisies, feesoptredes en radio-vrystellings.
Van die grootste hoogtepunte in sy loopbaan sover was die vrystellings van sy vorige vier enkelsnitte op radio.
“Ek droom daarvan om voor my dertigste verjaardag ’n stadion vol mense met my musiek te bereik,” verklap die sanger oor wat hy graag wil bereik.
“Buiten dit en my liefde vir musiek geniet ek dit ook om stories op die verhoog te vertel.”
Sy musiekstyl word sterk beïnvloed deur pop, rock en Afrikaanse musiek. Internasionale kunstenaars soos Billie Eilish, asook plaaslike kunstenaars soos Elvis Blue, het ’n invloed op sy eie styl gehad.
Volgens die musikant inspireer eerlike stories hom die meeste en sal hy graag in die toekoms met kunstenaars wil werk wat nie bang is om hulself deur musiek uit te druk nie.
As hy nie ’n loopbaan in musiek gehad het nie, sou hy waarskynlik iets kreatief soos ontwerp of argitektuur gekies het omdat hy daarvan hou om visuele idees te skep.
“Ek dink baie diep oor die lewe en mense,” sê hy wanneer hy gevra word wat ander dalk nie van hom weet nie.
Die vermaaklikheidsbedryf het hom al geleer om altyd homself te wees en nie te probeer wees wat ander wil hê hy moet wees nie
Buiten musiek fokus hy tans op sy studies en persoonlike groei.
Volgens Boshoff was die grootste uitdaging in sy lewe om sy plek en identiteit as mens te vind.
Hy beskryf sy musiek as eerlike emosie met moderne klanke en diep betekenis.
Sy planne vir die res van 2026 sluit die vrystelling van meer oorspronklike musiek in, om as kunstenaar te groei en om nog meer mense met sy musiek te bereik.
Arend beloof om diep gevoelens by luisteraars aan te wakker en mense daaraan te herinner dat dit heeltemal oukei is om anders te wees en jou eie pad te stap.
![]()